Plaaslike regering is een van die drie regeringsfere tesame met die provinsiale en die nasionale sfere. Plaaslike regering bestaan uit munisipaliteite wat baie van die dienste lewer wat mense daagliks gebruik. Die Grondwet maak voorsiening vir drie kategorieë munisipaliteite, naamlik metropolitaanse, distriks- en plaaslike munisipaliteite. Daar is 278 munisipaliteite in Suid-Afrika wat uit 8 metropolitaanse, 44 distriks- en 226 plaaslike munisipaliteite bestaan.
Bylae 4 en 5 van die Grondwet sit die funksie van elke regeringsfeer uiteen. Die funksies van plaaslike regering word in Deel B van elke bylae gelys. Al drie regeringsfere moet hul werksaamhede koördineer. Nasionale en provinsiale regering deel die verantwoordelikheid vir funksies soos gelys in Bylae 4, byvoorbeeld die polisiemag en rampbestuur. Provinsiale regering het die uitsluitlike verantwoordelikheid vir funksies soos gelys in Bylae 5, byvoorbeeld ambulansdienste en provinsiale paaie. Die weermag en tersiêre onderwys is byvoorbeeld die uitsluitlike verantwoordelikheid van nasionale regering.
Al drie regeringsfere deel bevoegdhede en verantwoordelikhede vir sommige funksies, byvoorbeeld “behuising”. “Behuising” word as ’n gedeelde verantwoordelikheid tussen nasionale en provinsiale regering gelys. “Water- en sanitasiedienste” word as ’n funksie van plaaslike regering gelys, maar vorm deel van die voorsiening van behuising. Elektrisiteit, vullisverwydering, parke en ontspanningsareas, en openbare plekke is sommige van die ander dienste wat plaaslike regering moet lewer.
Munisipaliteite administreer dienste deur middel van plaaslike rade wat verkies word tydens plaaslikeregeringsverkiesings. Hulle werk word deur die munisipale administrasie uitgevoer. Die publiek het die reg en die plig om aan munisipale besluitneming deel te neem deur middel van wykskomitees, vergaderings vir openbare deelname, om vertoë en voorleggings in te dien, en om raadslede direk te kontak.